Daar’s die bekende verhaal van die filosoof wat so eeu of drie voor Christus se geboorte in Athene helder oordag oor die markplein stap. In sy hand is daar ’n brandende lamp waarmee hy soek-soek loop. Wanneer mense nuuskierig vra: “Wat soek jy?”, antwoord hy elke keer: “Ek soek ’n mens.” “Watter mens?” vra hulle spottend. “ ’n Regte mens”, antwoord hy. Met dié handeling is hy besig met ’n soort aanskouingsles: hy soek iemand wat eg-menslik optree, soos wat van ‘n “regte mens” kan word. Sy “soektog” maak die stelling dat sulke mense skaars is.
Die vraag is: Wat maak mense menslik? Wat is eie aan menswees? Wanneer kan menswees as iets “mooi” beskryf word?
Dat daar nie ’n enkelvoudige antwoord oor menswees bestaan nie, word gesuggereer deur Alexis Carrel se boektitel Man the unknown (1906). Dié betekenisvolle titel vind hy gepas ná sy jarelange navorsing oor die mens.
’n Goeie vraag is of mens oor menswees net die nuutste navorsing oor mense ter harte moet neem. Sou dit enige sin hê om eeue-oue geskrifte te raadpleeg?
By my is daar geen twyfel nie, dat om meer oor ons eie menswees te verstaan, ons juis na die vroegste geskrifte moet gaan. En hier is daar dadelik die voortreflike en onoortrerflike vertyelling en verduideliking oor menswees in die heel eerste Bybelboek, Genesis. Hier vind ons sommer met die intrapslag nie net nadenking oor God en die skepping, maar ook oor die mens en ons plek in die skepping.
Natuurlik is dit nie onvanpas om te vra of só ‘n ou geskrif se siening oor menswees enigsens vandag nog vir ons ter sake kan wees nie. Ons leef immers in die 21ste eeu na Christus: in ’n tyd van die mees verstommende ontdekkings, ruimteverkenning, die Hubble teleskoop, ’n komunikasie-ontploffing (dink: internet, en alles daaromheen), en dan nog die verstommende navorsing op biologiese terrein, die onrafeling van die DNS en die menslike genoom.
Wat kan ons – met al dié inligting tot ons beskikking – wys word uit ’n vertelling van méér as 2500 jaar gelede? Die 21ste eeu se mens benodig immers ‘n 21ste eeuse antroplogie?
Watter waarde kan ‘n vertelling oor ‘n man wat uit grond gevorm is, en ‘n vrou wat uit die man se rib gemaak is vandag hê ? Kan ons ooit dié verhale ernstig opneem ? Ja ons weet dat wetenskaplikes vandag graag, wanneer hulle opgrawings doen en heel vroeë spesies van die menslike ras ontdek, hulle Adam of Eva noem. Maar is daar iets méér in die ou verhale as name wat ons kan gebruik ?
Die antwoord hierop is ‘n dawerende ja. Ek wil sover gaan om te sê dat iemand wat met die vroeë verhale geen rekening hou nie, bitter arm is.
Maar watter waarde kan dit dan hê ?
Dit is immers nie geskiedenis, werklike historiese gebeure nie? Of hoe? En dan is dit immers waardeloos? Of hoe?
Nee, dit is nie geskiedenis in die gebruiklike sin van die woord nie.
Jy kan dit wel oergeskiedenis noem as jy wil. Maar dan nie oer in die sin van eerste of vroegste geskiedenis nie, maar oer in die sin dat dit die oorspronklike grondpatrone van menslike bestaan beskryf.
Dis dus eerder verhaal as geskiedenis. Maar dan nie bloot ’n verhaal om kinders of wie ook al mee te vermaak nie. Dit het diepliggende betekenis. Menslike bestaan wat nie in die lug hang nie, maar innig verweef is met die natuur/skepping en wat geleef word voor die aangesig van God. En daarom hét dit betekenis – ook vir, of miskien juis vir die mens van die 21ste eeu!
Wanneer die “grondpatrone van ons bestaan” blootgelê word, is dit nooit net ’n akademiese bespiegeling oor wie ons is nie – dit is terselfdertyd ’n uitnodiging aan ons om getrou te bly aan ons roeping wat in dié verhaal uitgespel word.
Dit kan lewensveranderend, lewensvernuwend werk.
![]() |
| Adam en Eva, Tertia du Toit, 1995. |
2. Foto-album of spieël?
In die tyd toe Genesis geskryf is, was die vertel van verhale ’n geliefde manier om die wêreld en ons plek daarin te verduidelik.
As’n kind byvoorbeeld sou vra: “Wat is ‘n mens?” “Hoekom is ons hier?”
“Hoe is ons anders as die diere?” “Hoe werk die verhouding tussen ’n man en ‘n vrou?”, sou ouers nie met een of ander wetenskaplike antwoord voor die dag kom nie. Hulle sou eerder sê: “Kom ek vertel jou ’n storie. Daar was ‘n man met die naam “Mens.” Hy het ’n vrou gehad, haar naam was “Lewe.”
Hulle is deur God gemaak en in ’n tuin geplaas met die opdrag om dit te versorg...”
Met so ’n antwoord is word lewenswaarhede en -insigte in verhaalvorm oorgedra.
Die onderskeid tussen ’n letterlike opvatting en die siening dat dit ’n verhaal is, kan vergelyk word met die verskil tussen ’n foto-album en ’n spieël.
Wanneer ’n mens Adam & Eva se verhaal as die letterlike “geskiedenis van die eerste mense” sou sien, gerbruik jy die Bybel min of meer soos ’n foto-album. Die Bybel bevat as’t ware 'foto’s' van almal wat in die geskiedenis ’n belangrike rol gespeel het: Abraham, Dawid, Jesaja, en so meer. As jy sou terugblaai na die héél eerste bladsy, is daar ‘n die 'foto' van die eerste mensepaar. So het die héél eerste mense (Adam en Eva) gelyk en gehandel. Hulle het werklik geleef in die tuin van Eden, Adam het werklik aan al die diere name gegee, en so meer.
Wanneer jy hierdie vertelling egter as verhaal opneem, sien jy dit nie as die eerste foto in die Bybelse foto-album nie. Dan word dit’n spieël waarin jy kyk. Wanneer ek deur ’n ou foto-album kyk, sien ek my voorouers. Maar as ek in ’n spieël kyk, sien ek myself. Dan sê die verhaal nie meer: “So was die eerste mense” nie, maar “So ís mense! Dit is wie ons is!”
Jy moet die Genesisverhaal lees om tot verhaal te kom. Jou eie verhaal moet jy hierin terugvind. Jou eie verruklike moontlikhede, maar ook jou eie swakhede en verlorenheid. En dalk, net dalk ontdek jy dat jy ook die roepstem van God verneem...
Waag dit man! Kyk in die spieël!
3. VERHAAL OF GESKIEDENIS?
Voor ons in die verhaalspieël kyk, kan ons nog één keer vra: Is dit nie dalk (soos sommige beweer) oneerbiedig om hierdie relaas as iets anders as “letterlik waar” en “histories juis” te sien nie?
Kom ons gaan na die Genesisteks self! Daar is verskeie wenke in die teks wat dit daarop dui dat ons hier met ‘n verhaal te doen het en nie met ’n weergawe van historiese gebeure wat letterlik opgeneem moet word nie.
Twee weergawes
Die eerste ding wat ons help insien dat dit nie letterlik geneem kan word nie, is die volgorde waarin die skeppingshandelinge beskryf word.
Volgens Genesis 2 word éérs die aarde en hemel geskep, daarná die man, daarná plante, dan diere en voëls, en eers dan (nadat die man nie onder die diere ’n maat kon vind nie) die vrou.
Dit is duidelike hierdie volgorde nie net geen sin maak uit ’n natuur-wetenskaplike oogpunt nie, maar nog belangrik: die volgorde verskil drasties van die volgorde in die skeppingsverhaal soos wat dit in Genesis 1 vertel word.
Volgens Genesis 1 word éérs die hemel en aarde geskep, dan die lugruim, dan plante, dan visse en voëls, dan die landdiere, en uiteindelik die mens (man en vrou).
Omdat die twee verhale so duidelik verskil, sit iemand wat een of albei letterlik wil opneem, met ‘n probleem. Watter volgorde is korrek? Watter een kom die beste ooreen met ‘n natuurwetenskaplike volgorde?
Die samestellers van die Bybel was nie so onkundig dat twee verhale met uiteenlopende skeppingsvolgordes per ongeluk langs mekaar gesit is nie. Hulle het doodgewoon geweet dat dié twee weergawes mekaar aanvul en komplementeer. Die twee skeppingsweergawes het verskillende oogmerke en besing dieselfde werklikheid uit verskillend gesigshoeke.
Genesis 1 se weergawe kan gesien word as ’n poëtiese belydenis oor die Skepper – ’n himne waarin God se grootheid besing word.
Soms word gepoog om (veral) Genesis 1 se relaas met die natuur-wetenskaplike verstaan van die ontstaansvolgorde van dinge te versoen, met die gedagte dat die waarheid van die Bybel daarmee bewys word. Hoewel dit goed bedoel is, is dit onnodig en doen dit geweld aan aan die aard en bedoeling van die stof. Genesis 1 word dan (ten onregte) gesien as wetenskaplik-gefundeerde skeppingsrelaas in plaas van ‘n geloofshimne waarin die grootheid en goedheid van God bely en besing word.
Intussen kan die Tuinverhaal (Gen 2 & 3) gesien word as ‘n relaas waar gefokus word op die plek en taak van die mens. Al word in die eerste skeppingshimne (Genesis 1) ook oor die mens gepraat – dat die mens (man en vrou) geskep is na God se beeld en deur God geseën word, word daar in Tuinverhaal 2 van meet af aan gefokus op die mens: hoe hy gemaak word, sy roeping, doen en late, moontlikhede en beperkinge.
Simboliese name
’n Tweede ding wat ons help om te sien dat die Adam-Eva vertelling verhaalgenre is, en nie geskiedenis nie, is eenvoudig dat die gebeure in verhaaltaal en verhaalstyl vertel. Elemente wat eie is aan verhale en nie geskiedenis nie, word deurlopend gebruik.
Die eerste element wat eie is aan verhaalstyl, is die simboliese name wat gebruik word.
Wanneer ek iets sou vertel wat lui: “Meneer Mens trou met mevrou Lewe. Hulle het twee kinders: Sterkman en Swakman. Sterkman slaan Swakman dood...” dan verraai die gebruik van die simboliese name dat ons te doen het met ’n simboliese verhaal, waarin iets oor menswees, lewe, sterkes teenoor swakkes, en so meer, in verhaalvorm gesê word. Al is dit dan nie ’n verhaal wat as “histories” gesien kan word nie, is die verhaal nog steeds waar – in die sin dat dit mense korrek uitbeeld, en dat die uitbeelding klop met die werklikheid.
Die Tuinverhaal werk presies so. Wanneer die eerste mens Adam (Mens) genoem word, en sy vrou Eva – in Hebreeus Hawwa (Lewe), laat dit ons klaar vermoed dat ons met ‘n verhaal te make het waarin mense se eienskappe deur hul (simboliese) name aangedui word. As hul twee kinders dan genoem word Kain (Enkeling, Man, Sterke) en Abel (Asemtog, Asempie, Nietige), bevestig dit dié vermoede. Die blote benaming suggereer al dat Sterkman dalk in staat is (of selfs geneig mag wees) om Swakman se lewe te neem! Weereens wil dit nie die geskiedenis van Abel en Kain weergee nie, maar ’n lewenswaarheid uitbeeld, naamlik dat die sterkeres geneig is om die swakkeres af te knou en te na te kom.
(Dat die verhaal egter veel méér as dit kan meedeel, sal ons weldra sien.)
Verhaaltaal
Wanneer daar dan nog tipiese verhaalelemente bygevoeg word (dit wil sê dinge wat in verhale voorkom, maar nie in die werklike lewe nie), soos die slang wat praat en die vrou wat uit die man se rib gemaak word, is dit volledig duidelik dat ons met ’n verhaal te make het, en nie geskiedenis nie.
Weereens: dit verminder nie die waarde van die stof nie omdat dit verhaal is en nie geskiedenis nie. Inteendeel. Juis omdat dit nie net oor die eerste mense gaan nie, maar oor ons – oor menswees in die algemeen – is dié verhaal vir ons lewensbelangrik. Dis ons verhaal wat hier vertel word!
-Danie du Toit
-Danie du Toit

Wat my verstom omtrent die oerou Bybelse boeke is die insig wat daardie skrywers gehad het. Wat hulle te vertel gehad het, word selfs vandag nog as sielkundig korrek ervaar, ten spyte van die geweldige verskil in lewenstyl, kennis, implemente en ervaring. Die skrywer van Job, bv., het reeds al beginsels neergelê oor hoe 'n treurende deur sy vriende bygestaan behoort te word - iets wat die meeste mense eers na 'n halwe leeftyd leer. Hoe is daardie verhale met hul wye en diep perspektiewe opgestel deur mense wat bv. geen vervoer behalwe hul eie voete of diere se pote gehad het nie? Hoe kon hulle 'n begrip vorm van hoe mense anderkant die naaste hoë berg leef - om nie te praat van anderkant die oseaan nie - sodat hulle stellings kon maak wat vir alle mense geld? En hoe kon hulle, wat geen algemeen beskikbare geskrifte gehad het nie, sodat hulle die geskiedenis van hul voorgeslagte sowel as diè van ander volke kon vergelyk en daaruit leer, stellings maak oor wat "in die begin" gebeur het? Wat het hulle hoegenaamd laat dink dat daar 'n "begin" was? (Ek dink nie nou aan die tyd toe die verhale opgeskryf is nie, maar aan die tyd toe hulle (om kampvure?) ontstaan het, lank tevore.)
ReplyDeleteBaie insiggewend. Goed verwoord en kleurvolle teks
ReplyDeleteVan Beste Professor!