Tuesday, January 4, 2011

4. Menswees



Maar wat sê die Tuinverhaal – die verhaal van Adam en Eva en hul kinders - oor menswees?    Wat is dit wat ons in dié spieël sien?


Die mens is van die aarde


Volgens die tuinverhaal hoort die mens en die aarde by mekaar.  In die vertelling word dit deur fyn woordspeling onderstreep. Die mens (adam) word gemaak uit stof van die aarde (edama).  Die mens is stoflik. Wanneer ons onsself verhef bo die natuur en dink dat ons die natuur na hartelus kan uitput, misbruik, opgebruik, daaroor baasspeel omdat ons kwansuis “in beheer” is, herinner dié verhaal ons dat ons nie te hoog moet opgee oor onsself en ons vermoë nie: ons is déél van die natuur.


Die mens is van God


Maar die mens is ook “van God.” Nie goddelik nie, maar as’t ware uit God se hand gegee. Uit die verhaal word dit duidelik dat die mens ‘n geestelike wese is, wat hier beteken dat die mens in besondere, bewustelike verhouding staan tot die Skepper. Ons het ’n Godsbewussyn, ’n verlange na die Ewige. Terwyl die besondersheid van die mens reeds in Genesis 1 gesuggereer word deur te sê dat die mens na “God se beeld” geskep is, word die mens se besondersheid in Genesis 2 in verhaalvorm meegedeel.


Wanneer vertel word dat God die mens met eie vingers vorm en sy asem in die mens inblaas, impliseer dit dat God iets besonders vir die mens gee. God se asem kan gesien word as die lewensasem wat die mens tot lewende wese maak. Maar dit is ook méér. Die diere besit immers ook die “lewe” sonder dat só oor hulle gepraat word. Volgens dié vertelling staan die mens in ’n héél besondere relasie tot God en ontvang ons iets van God self. Die verhaal dui aan dat daar ’n innige band tussen ons en God is.


En tog word uit die verhaal duidelik dat die mens mens bly: afhanklik van God, geroep om in gehoorsaamheid tot God te leef. Ons is nie God nie, en wanneer die mens verlei word met die gedagte dat hy “soos God kan wees” is dit ’n leuen, ’n illusie.


In elk geval kom hier twee dinge ter sprake aangaande die mens. Enersyds die mens se humilitas, sy nederigheid en geringheid. Deel van die natuur. Gemaak uit die stof van die aarde.

Andersyds die mens se dignitas: die besondere posisie wat die mens in die skepping inneem, die vermoë om met God is verhouding te staan.

Menslike lewe het volgens hierdie verhaal besondere waarde. Die mens is spesiaal. En tog is menslike waardigheid volgens hierdie vertelling nie iets wat vanselfsprekend en inherent aan die mens is nie – dit is iets wat God aan ons skenk.


Die besondere plek van die mens word by herhaling deur hedendaagse navorsers bevestig. Die bekende paleo-antropoloog van Johannesburg, Philip Tobias (wat ’n evolusiekenner én terselderyd ’n toegewyde gelowige is) het byvoorbeeld by geleentheid speels gesê dat hy saamstem met die gedagte dat Charles Darwin sy boek oor die herkoms van die mens ’n veel beter titel kon gee. Terwyl Darwin dit genoem het “The descent of man”, sou dit (volgens Tobias) eerder genoem kon word: “The ascent of man”!   Dit sou méér reg laat geskied het aan die besondere posisie wat die mens beklee.


Hierdie besondersheid van die mens, as skepsel van God, wat ook mekaar se menswaardigheid moet erken, word fyn verwoord deur Ina Rossouw in haar gedig   Die mens van God:

  

     Op ‘n dag in Sy lang geskiedenis

     het God Sy mens beplan

     en het Sy mens bemin

     van die minuut van ingewing af

     deur al die miljoene en miljoene

     bloeiende en kwynende millenia,

     bemin hom steeds mennend vandag, bewaak

     nag en dag agterdogtig Sy lieflingsgewrog

     en tot grondstof vervloek is dié en dit

     wat Raka sê vir die mens van God                     


Wie mense verag, minag, vloek, vervloek, kom te staan teen God. Kom in botsing met God se liefdesplan vir sy mens.


Die mens as versorger


Die tuinverhaal word so vertel dat dit duidelik word dat die mens nie maar ‘n toevallig en na eie goeddunke handel nie.  Volgens dié vertelling is die mens deur God bestem is vir ‘n taak. Die mens is in die tuin geplaas om dit te bewerk en te bewaak. Die mens is dus nie net ‘n stukkie van die natuur nie, hy het die taak om aan die natuur vorm te gee. Die natuur benodig bewerking, kultuur.


In die verhaal word dit voorgestel asof die natuur in afwagting was op die koms van die mens.


Dié versorgingstaak word fyn uitgebeeld deur die relaas van die mens se taak om vir die diere name te gee. Hiermee sluit die verhaal aan by ‘n tipies menslike eienskap, wat saamhang met ons taalvaardigheid, naamlik om aan alles en nog wat name te gee. Ons benoem alles onder die son. Ons gee name aan diere, plante, voëls, insekte, planete, sterre, minerale, kleure, landstreke, orkane, siekte-toestande, ja aan letterlik alles! Die mens is ‘n onkeerbare benoemer en naamgewer!


William Blake: Adam gee name aan die diere.



En wanneer ons dinge so benoem, doen ons, volgens dié verhaal, eintlik wat God ook doen. Volgens die himne in Genesis 1 skep God nie net nie, maar gee ook aan alles name.  Die lugruim noem Hy hemel, die watermassa noem Hy see, en so meer. Wanneer die mens name gee, tree hy op as verteenwoordiger van God, en sit die naamgewing wat God begin het, voort.


Al weet ons dat die verhaal van die naamgewing in die tuin nie gesien kan word as iets wat letterlik só gebeur het nie, moet die betekenis daarvan nie ligtelik opgeneem word nie.


Hierdie “naamgewing” vorm part en deel van die mens se vermoë om te kommunikeer. Maar dit het ook te make met die menslike vermoë om te ondersoek, te ken, te begryp.  Vóórdat ‘n mens iets kan benoem, is daar bepaalde geïnteresseerdheid en insig nodig. Maar ook die begeerte om te versorg en orden.


As jy oor dié gegewens dink, kom jy agter dat dié verhaal amper ongemerk maar tog onteenseglik inspeel op dit wat ons vandag ‘n ekologiese besussyn sal noem!


The Dairy of Adam and Eve


Een taamlik vrolike “uiteensetting” oor die gee van die name aan die diere, kom voor in die Amerikaanse skrywer Mark Twain se boekie The dairy of Adam and Eve. Adam hou ’n aan dagboek oor sy daaglikse ervarings in die tuin, en dan word dit afgewissel met Eva se ervarings wat sy op haar beurt in háár dagboek skryf.


Terwyl Adam volgens die Genesis-weergawe die enigste naamgewer was – nog vóórdat Eva haar opwagting gemaak het, maak Mark Twain haar betrokke by die gee van die name. Sy help Adam daarmee.  In Adam se dagboek skryf hy dat hy die nuwe skepsel in die tuin (Eva), al is sy mooi, ietwat lastig vind. Wanneer hy byvoorbeeld aan ‘n dier ‘n naam wil gee, meng sy ongevraagd in. Wanneer ‘n bepaalde dier verskyn, wil hy wat Adam is, seker maak dat hy die beste moontlike naam gee. Hy wil die dier se karakter en eienskappe bestudeer en hom gepas benoem. Voordat hy egter die gepaste naam vind, trek Eva sommer los en sê iets soos: “Dis ‘n jakkals!”. Om die vrede te bewaar, aanvaar Adam dan maar die naam. Maar dit beproef sy geduld.


Intussen skryf Eva in háár dagboek dat sy bly is dat sy daar is om Adam te ondersteun. Hy het onder andere die taak om aan die diere name te gee. Sy merk egter op dat hy bietjie onseker is.  Daar verskyn byvoorbeeld ‘n dier, en sy kan dadelik sien dat dit, sê maar ‘n jakkals is. Sy sien egter dat Adam nie die dier eien nie, dit lyk of hy dink dis ‘n tierboskat of iets. Daarom sê sy maar gou vir hom – vóór hy kan fouteer: “Dis ‘n jakkals!”  Sy kan sien dit is vir hom ‘n groot verligting dat sy hom so help met sy taak.


Met hierdie heel prettige vertelling (wat ek taamlik vry weergee) is Mark Twain natuurlik nie regtig met die naamgewing gemoeid nie. Veel eerder lewer hy kommentaar op die verhouding tussen man en vrou, en op die feit dat ons almal geneig is om die lewe net uit eie perspektief sien en min begrip het vir ander se insigte.


No comments:

Post a Comment