Tuesday, January 4, 2011

4. Menswees



Maar wat sê die Tuinverhaal – die verhaal van Adam en Eva en hul kinders - oor menswees?    Wat is dit wat ons in dié spieël sien?


Die mens is van die aarde


Volgens die tuinverhaal hoort die mens en die aarde by mekaar.  In die vertelling word dit deur fyn woordspeling onderstreep. Die mens (adam) word gemaak uit stof van die aarde (edama).  Die mens is stoflik. Wanneer ons onsself verhef bo die natuur en dink dat ons die natuur na hartelus kan uitput, misbruik, opgebruik, daaroor baasspeel omdat ons kwansuis “in beheer” is, herinner dié verhaal ons dat ons nie te hoog moet opgee oor onsself en ons vermoë nie: ons is déél van die natuur.


Die mens is van God


Maar die mens is ook “van God.” Nie goddelik nie, maar as’t ware uit God se hand gegee. Uit die verhaal word dit duidelik dat die mens ‘n geestelike wese is, wat hier beteken dat die mens in besondere, bewustelike verhouding staan tot die Skepper. Ons het ’n Godsbewussyn, ’n verlange na die Ewige. Terwyl die besondersheid van die mens reeds in Genesis 1 gesuggereer word deur te sê dat die mens na “God se beeld” geskep is, word die mens se besondersheid in Genesis 2 in verhaalvorm meegedeel.


Wanneer vertel word dat God die mens met eie vingers vorm en sy asem in die mens inblaas, impliseer dit dat God iets besonders vir die mens gee. God se asem kan gesien word as die lewensasem wat die mens tot lewende wese maak. Maar dit is ook méér. Die diere besit immers ook die “lewe” sonder dat só oor hulle gepraat word. Volgens dié vertelling staan die mens in ’n héél besondere relasie tot God en ontvang ons iets van God self. Die verhaal dui aan dat daar ’n innige band tussen ons en God is.


En tog word uit die verhaal duidelik dat die mens mens bly: afhanklik van God, geroep om in gehoorsaamheid tot God te leef. Ons is nie God nie, en wanneer die mens verlei word met die gedagte dat hy “soos God kan wees” is dit ’n leuen, ’n illusie.


In elk geval kom hier twee dinge ter sprake aangaande die mens. Enersyds die mens se humilitas, sy nederigheid en geringheid. Deel van die natuur. Gemaak uit die stof van die aarde.

Andersyds die mens se dignitas: die besondere posisie wat die mens in die skepping inneem, die vermoë om met God is verhouding te staan.

Menslike lewe het volgens hierdie verhaal besondere waarde. Die mens is spesiaal. En tog is menslike waardigheid volgens hierdie vertelling nie iets wat vanselfsprekend en inherent aan die mens is nie – dit is iets wat God aan ons skenk.


Die besondere plek van die mens word by herhaling deur hedendaagse navorsers bevestig. Die bekende paleo-antropoloog van Johannesburg, Philip Tobias (wat ’n evolusiekenner én terselderyd ’n toegewyde gelowige is) het byvoorbeeld by geleentheid speels gesê dat hy saamstem met die gedagte dat Charles Darwin sy boek oor die herkoms van die mens ’n veel beter titel kon gee. Terwyl Darwin dit genoem het “The descent of man”, sou dit (volgens Tobias) eerder genoem kon word: “The ascent of man”!   Dit sou méér reg laat geskied het aan die besondere posisie wat die mens beklee.


Hierdie besondersheid van die mens, as skepsel van God, wat ook mekaar se menswaardigheid moet erken, word fyn verwoord deur Ina Rossouw in haar gedig   Die mens van God:

  

     Op ‘n dag in Sy lang geskiedenis

     het God Sy mens beplan

     en het Sy mens bemin

     van die minuut van ingewing af

     deur al die miljoene en miljoene

     bloeiende en kwynende millenia,

     bemin hom steeds mennend vandag, bewaak

     nag en dag agterdogtig Sy lieflingsgewrog

     en tot grondstof vervloek is dié en dit

     wat Raka sê vir die mens van God                     


Wie mense verag, minag, vloek, vervloek, kom te staan teen God. Kom in botsing met God se liefdesplan vir sy mens.


Die mens as versorger


Die tuinverhaal word so vertel dat dit duidelik word dat die mens nie maar ‘n toevallig en na eie goeddunke handel nie.  Volgens dié vertelling is die mens deur God bestem is vir ‘n taak. Die mens is in die tuin geplaas om dit te bewerk en te bewaak. Die mens is dus nie net ‘n stukkie van die natuur nie, hy het die taak om aan die natuur vorm te gee. Die natuur benodig bewerking, kultuur.


In die verhaal word dit voorgestel asof die natuur in afwagting was op die koms van die mens.


Dié versorgingstaak word fyn uitgebeeld deur die relaas van die mens se taak om vir die diere name te gee. Hiermee sluit die verhaal aan by ‘n tipies menslike eienskap, wat saamhang met ons taalvaardigheid, naamlik om aan alles en nog wat name te gee. Ons benoem alles onder die son. Ons gee name aan diere, plante, voëls, insekte, planete, sterre, minerale, kleure, landstreke, orkane, siekte-toestande, ja aan letterlik alles! Die mens is ‘n onkeerbare benoemer en naamgewer!


William Blake: Adam gee name aan die diere.



En wanneer ons dinge so benoem, doen ons, volgens dié verhaal, eintlik wat God ook doen. Volgens die himne in Genesis 1 skep God nie net nie, maar gee ook aan alles name.  Die lugruim noem Hy hemel, die watermassa noem Hy see, en so meer. Wanneer die mens name gee, tree hy op as verteenwoordiger van God, en sit die naamgewing wat God begin het, voort.


Al weet ons dat die verhaal van die naamgewing in die tuin nie gesien kan word as iets wat letterlik só gebeur het nie, moet die betekenis daarvan nie ligtelik opgeneem word nie.


Hierdie “naamgewing” vorm part en deel van die mens se vermoë om te kommunikeer. Maar dit het ook te make met die menslike vermoë om te ondersoek, te ken, te begryp.  Vóórdat ‘n mens iets kan benoem, is daar bepaalde geïnteresseerdheid en insig nodig. Maar ook die begeerte om te versorg en orden.


As jy oor dié gegewens dink, kom jy agter dat dié verhaal amper ongemerk maar tog onteenseglik inspeel op dit wat ons vandag ‘n ekologiese besussyn sal noem!


The Dairy of Adam and Eve


Een taamlik vrolike “uiteensetting” oor die gee van die name aan die diere, kom voor in die Amerikaanse skrywer Mark Twain se boekie The dairy of Adam and Eve. Adam hou ’n aan dagboek oor sy daaglikse ervarings in die tuin, en dan word dit afgewissel met Eva se ervarings wat sy op haar beurt in háár dagboek skryf.


Terwyl Adam volgens die Genesis-weergawe die enigste naamgewer was – nog vóórdat Eva haar opwagting gemaak het, maak Mark Twain haar betrokke by die gee van die name. Sy help Adam daarmee.  In Adam se dagboek skryf hy dat hy die nuwe skepsel in die tuin (Eva), al is sy mooi, ietwat lastig vind. Wanneer hy byvoorbeeld aan ‘n dier ‘n naam wil gee, meng sy ongevraagd in. Wanneer ‘n bepaalde dier verskyn, wil hy wat Adam is, seker maak dat hy die beste moontlike naam gee. Hy wil die dier se karakter en eienskappe bestudeer en hom gepas benoem. Voordat hy egter die gepaste naam vind, trek Eva sommer los en sê iets soos: “Dis ‘n jakkals!”. Om die vrede te bewaar, aanvaar Adam dan maar die naam. Maar dit beproef sy geduld.


Intussen skryf Eva in háár dagboek dat sy bly is dat sy daar is om Adam te ondersteun. Hy het onder andere die taak om aan die diere name te gee. Sy merk egter op dat hy bietjie onseker is.  Daar verskyn byvoorbeeld ‘n dier, en sy kan dadelik sien dat dit, sê maar ‘n jakkals is. Sy sien egter dat Adam nie die dier eien nie, dit lyk of hy dink dis ‘n tierboskat of iets. Daarom sê sy maar gou vir hom – vóór hy kan fouteer: “Dis ‘n jakkals!”  Sy kan sien dit is vir hom ‘n groot verligting dat sy hom so help met sy taak.


Met hierdie heel prettige vertelling (wat ek taamlik vry weergee) is Mark Twain natuurlik nie regtig met die naamgewing gemoeid nie. Veel eerder lewer hy kommentaar op die verhouding tussen man en vrou, en op die feit dat ons almal geneig is om die lewe net uit eie perspektief sien en min begrip het vir ander se insigte.


Monday, January 3, 2011

Menslike Mense

1. Ek soek ’n mens

Daar’s die bekende verhaal van die filosoof wat so eeu of drie voor Christus se geboorte in Athene helder oordag oor die markplein stap. In sy hand is daar ’n brandende lamp waarmee hy soek-soek loop. Wanneer mense nuuskierig vra: “Wat soek jy?”,  antwoord hy elke keer: “Ek soek ’n mens.” “Watter mens?” vra hulle spottend. “ ’n Regte mens”, antwoord hy. Met dié handeling is hy besig met ’n soort aanskouingsles: hy soek iemand wat eg-menslik optree, soos wat van ‘n “regte mens” kan word. Sy “soektog” maak die stelling dat sulke mense skaars is.

Die vraag is: Wat maak mense menslik? Wat is eie aan menswees? Wanneer kan menswees as iets “mooi” beskryf word? 

Dat daar nie ’n enkelvoudige antwoord oor menswees bestaan nie, word gesuggereer deur Alexis Carrel se boektitel Man the unknown (1906). Dié betekenisvolle titel vind hy gepas ná sy jarelange navorsing oor die mens.

’n Goeie vraag is of mens oor menswees net die nuutste navorsing oor mense ter harte moet neem. Sou dit enige sin hê om eeue-oue geskrifte te raadpleeg?
By my is daar geen twyfel nie, dat om meer oor ons eie menswees te verstaan, ons juis na die vroegste geskrifte moet gaan. En hier is daar dadelik die voortreflike en onoortrerflike vertyelling en verduideliking oor menswees in die heel eerste Bybelboek, Genesis. Hier vind ons sommer met die intrapslag nie net nadenking oor God en die skepping, maar ook oor die mens en ons plek in die skepping.

Natuurlik is dit nie onvanpas om te vra of só ‘n ou geskrif se siening oor menswees enigsens vandag nog vir ons ter sake kan wees nie.  Ons leef immers in die 21ste eeu na Christus: in ’n tyd van die mees verstommende ontdekkings, ruimteverkenning, die Hubble teleskoop, ’n komunikasie-ontploffing (dink: internet, en alles daaromheen), en dan nog die verstommende navorsing op biologiese terrein, die onrafeling van die DNS en die menslike genoom.
Wat kan ons – met al dié inligting tot ons beskikking – wys word uit ’n vertelling van méér as 2500 jaar gelede? Die 21ste eeu se mens benodig immers ‘n 21ste eeuse antroplogie?

Watter waarde kan ‘n vertelling oor ‘n man wat uit grond gevorm is, en ‘n vrou wat uit die man se rib gemaak is vandag hê ? Kan ons ooit  dié verhale ernstig opneem ?  Ja ons weet dat wetenskaplikes vandag graag, wanneer hulle opgrawings doen en heel vroeë spesies van die menslike ras ontdek, hulle Adam of Eva noem.  Maar is daar iets méér in die ou verhale as name wat ons kan gebruik ?

Die antwoord hierop is ‘n dawerende ja. Ek wil sover gaan om te sê dat iemand wat met die vroeë verhale geen rekening hou nie, bitter arm is.

Maar watter waarde kan dit dan hê ?

Dit is immers nie geskiedenis, werklike historiese gebeure nie? Of hoe? En dan is dit immers waardeloos? Of hoe?

Nee, dit is nie geskiedenis in die gebruiklike sin van die woord nie.
Jy kan dit wel oergeskiedenis noem as jy wil. Maar dan nie oer in die sin van eerste of vroegste geskiedenis nie, maar oer in die sin dat dit die oorspronklike grondpatrone van menslike bestaan beskryf.
Dis dus eerder verhaal as geskiedenis. Maar dan nie bloot ’n verhaal om kinders of wie ook al mee te vermaak nie. Dit het diepliggende betekenis. Menslike bestaan wat nie in die lug hang nie, maar innig verweef is met die natuur/skepping en wat geleef word voor die aangesig van God.  En daarom hét dit betekenis – ook vir, of miskien juis vir die mens van die 21ste eeu!

Wanneer die “grondpatrone van ons bestaan” blootgelê word, is dit nooit net ’n akademiese bespiegeling oor wie ons is nie – dit is terselfdertyd ’n uitnodiging aan ons om getrou te bly aan ons roeping wat in dié verhaal uitgespel word.
Dit kan lewensveranderend, lewensvernuwend werk.


Adam en Eva, Tertia du Toit, 1995.









2. Foto-album of spieël?

In die tyd toe Genesis geskryf is, was  die vertel van verhale ’n geliefde manier om die wêreld en ons plek daarin te verduidelik.
As’n kind byvoorbeeld sou vra: “Wat is ‘n mens?”  “Hoekom is ons hier?”
“Hoe is ons anders as die diere?” “Hoe werk die verhouding tussen ’n man en ‘n vrou?”, sou ouers nie met een of ander wetenskaplike antwoord voor die dag kom nie.  Hulle sou eerder sê:   “Kom ek vertel jou ’n storie. Daar was ‘n man met die naam “Mens.”   Hy het ’n vrou gehad, haar naam was “Lewe.”
Hulle is deur God gemaak en in ’n tuin geplaas met die opdrag om dit te versorg...”
Met so ’n antwoord is word lewenswaarhede en -insigte in verhaalvorm oorgedra.

Die onderskeid tussen ’n letterlike opvatting en die siening dat dit ’n verhaal is, kan vergelyk word met die verskil tussen ’n foto-album en ’n spieël.

Wanneer ’n mens Adam & Eva se verhaal as die letterlike “geskiedenis van die eerste mense” sou sien, gerbruik jy die Bybel min of meer soos ’n foto-album. Die Bybel bevat as’t ware 'foto’s' van almal wat in die geskiedenis ’n belangrike rol gespeel het: Abraham, Dawid, Jesaja, en so meer.  As jy sou terugblaai na die héél eerste bladsy, is daar ‘n die 'foto' van die eerste mensepaar. So het die héél eerste mense (Adam en Eva) gelyk en gehandel. Hulle het werklik geleef in die tuin van Eden, Adam het werklik aan al die diere name gegee, en so meer.

Wanneer jy hierdie vertelling egter as verhaal opneem, sien jy dit nie as die eerste foto in die Bybelse foto-album nie. Dan word dit’n spieël waarin jy kyk. Wanneer ek deur ’n ou foto-album kyk, sien ek my voorouers. Maar as ek in ’n spieël kyk, sien ek myself.  Dan sê die verhaal nie meer:  “So was die eerste mense” nie, maar “So ís mense!  Dit is wie ons is!”

Jy moet die Genesisverhaal lees om tot verhaal te kom. Jou eie verhaal moet jy hierin terugvind. Jou eie verruklike moontlikhede, maar ook jou eie swakhede en verlorenheid. En dalk, net dalk ontdek jy dat jy ook die roepstem van God verneem...
Waag dit man! Kyk in die spieël!


3. VERHAAL OF GESKIEDENIS?

Voor ons in die verhaalspieël kyk, kan ons nog één keer vra: Is dit nie dalk (soos sommige beweer) oneerbiedig om hierdie relaas as iets anders as “letterlik waar” en “histories juis” te sien nie?

Kom ons gaan na die Genesisteks self!  Daar is verskeie wenke in die teks wat dit daarop dui dat ons hier met ‘n verhaal te doen het en nie met ’n weergawe van historiese gebeure wat letterlik opgeneem moet word nie.

Twee weergawes

Die eerste ding wat ons help insien dat dit nie letterlik geneem kan word nie, is die volgorde waarin die skeppingshandelinge beskryf word.

Volgens Genesis 2 word éérs die aarde en hemel geskep, daarná die man, daarná plante, dan diere en voëls, en eers dan (nadat die man nie onder die diere ’n maat kon vind nie) die vrou.

Dit is duidelike hierdie volgorde nie net geen sin maak uit ’n natuur-wetenskaplike oogpunt nie, maar nog belangrik: die volgorde verskil drasties van die volgorde in die skeppingsverhaal soos wat dit in Genesis 1 vertel word.
Volgens Genesis 1 word éérs die hemel en aarde geskep, dan die lugruim, dan plante, dan visse en voëls, dan die landdiere, en uiteindelik die mens (man en vrou).

Omdat die twee verhale so duidelik verskil, sit iemand wat een of albei letterlik wil opneem, met ‘n probleem.  Watter volgorde is korrek? Watter een kom die beste ooreen met ‘n natuurwetenskaplike volgorde?

Die samestellers van die Bybel was nie so onkundig dat twee verhale met uiteenlopende skeppingsvolgordes per ongeluk langs mekaar gesit is nie. Hulle het doodgewoon geweet dat dié twee weergawes mekaar aanvul en komplementeer.  Die twee skeppingsweergawes het verskillende oogmerke en besing dieselfde werklikheid uit verskillend gesigshoeke.

Genesis 1 se weergawe kan gesien word as ’n poëtiese belydenis oor die Skepper – ’n himne waarin God se grootheid besing word.
Soms word gepoog om (veral) Genesis 1 se relaas met die natuur-wetenskaplike verstaan van die ontstaansvolgorde van dinge te versoen, met die gedagte dat die waarheid van die Bybel daarmee bewys word.  Hoewel dit goed bedoel is, is dit onnodig en doen dit geweld aan aan die aard en bedoeling van die stof. Genesis 1 word dan (ten onregte) gesien as wetenskaplik-gefundeerde skeppingsrelaas in plaas van ‘n geloofshimne waarin die grootheid en goedheid van God bely en besing word.

Intussen kan die Tuinverhaal (Gen 2 & 3) gesien word as ‘n relaas waar gefokus word op die plek en taak van die mens. Al word in die eerste skeppingshimne (Genesis 1) ook oor die mens gepraat – dat die mens (man en vrou) geskep is na God se beeld en deur God geseën word, word daar in Tuinverhaal 2 van meet af aan gefokus op die mens: hoe hy gemaak word, sy roeping, doen en late, moontlikhede en beperkinge.  

Simboliese name

’n Tweede ding wat ons help om te sien dat die Adam-Eva vertelling verhaalgenre is, en nie geskiedenis nie, is eenvoudig dat die gebeure in verhaaltaal en verhaalstyl vertel. Elemente wat eie is aan verhale en nie geskiedenis nie, word deurlopend gebruik.

Die eerste element wat eie is aan verhaalstyl, is die simboliese name wat gebruik word.

Wanneer ek iets sou vertel wat lui: “Meneer Mens trou met mevrou Lewe. Hulle het twee kinders: Sterkman en Swakman. Sterkman slaan Swakman dood...”  dan verraai die gebruik van die simboliese name dat ons te doen het met ’n simboliese verhaal, waarin iets oor menswees, lewe, sterkes teenoor swakkes, en so meer, in verhaalvorm gesê word.  Al is dit dan nie ’n verhaal wat as “histories” gesien kan word nie, is die verhaal nog steeds waar – in die sin dat dit mense korrek uitbeeld, en dat die uitbeelding klop met die werklikheid.

Die Tuinverhaal werk presies so. Wanneer die eerste mens Adam (Mens) genoem word, en sy vrou Eva – in Hebreeus Hawwa  (Lewe), laat dit ons klaar vermoed dat ons met ‘n verhaal te make het waarin mense se eienskappe deur hul (simboliese) name aangedui word. As hul twee kinders dan genoem word Kain (Enkeling, Man, Sterke) en Abel (Asemtog, Asempie, Nietige), bevestig dit dié vermoede.  Die blote benaming suggereer al dat Sterkman dalk in staat is (of selfs geneig mag wees) om Swakman se lewe te neem! Weereens wil dit nie die geskiedenis van Abel en Kain weergee nie, maar ’n lewenswaarheid uitbeeld, naamlik dat die sterkeres geneig is om die swakkeres af te knou en te na te kom. 
(Dat die verhaal egter veel méér as dit kan meedeel, sal ons weldra sien.)

Verhaaltaal

Wanneer daar dan nog tipiese verhaalelemente bygevoeg word (dit wil sê dinge wat in verhale voorkom, maar nie in die werklike lewe nie), soos die slang wat praat en die vrou wat uit die man se rib gemaak word, is dit volledig duidelik dat ons met ’n verhaal te make het, en nie geskiedenis nie.

Weereens: dit verminder nie die waarde van die stof nie omdat dit verhaal is en nie geskiedenis nie. Inteendeel. Juis omdat dit nie net oor die eerste mense gaan nie, maar oor ons – oor menswees in die algemeen – is dié verhaal vir ons lewensbelangrik. Dis ons verhaal wat hier vertel word!

-Danie du Toit